
=====================================================================
Jou Afrikaans is redelik goed! (AV 7:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Jou Afrikaans is redelik goed!

Ons lesers skryf

Matthew Lamour vertel van 'n besoek aan sy geboorteland, wat hy verlaat het weens politieke oortuigings.

BEHALWE die verwering van bekende geboue, gesigte en geheues is dit tog billik om met die terugkeer na jou geboorteland n anderhalf dekade 
sekere veranderinge te verwag.

Ek het die land se grense verlaat toe die erfenis van spesifieke velpigmentasies alhier nog 'n staturre misdaad was.

Watter beter keuse kon daar wees vir 'n herbesoek as aan die Kaapse Parade en die plattelandse plekkie wat voorheen ook my tuiste was?

Saterdag! Die dag blink en Tafelberg met sy omliggende heuwels staan hand-om-die-lyf met die stad. Op die sypaadjies struikel voetgangers 
oor uitgestalde handelsware en word soms in die pad van voertuie gedwing. As ek vir 'n oomblik die kleurryke uitgestalde vrugte bewonder, 
word ek onmiddellik gepor vir 'n transaksie: "Hiesa, hie! Awwe-kade piere, makie hare mierer! Faaif rn 'n bgh!" (Avokado pere maak die 
hare meerder ...) Aan die oorkant moedig 'n ou my aan: "Whilala, whisjala - "You snooze, you lose!"

Die Parade prut. Kwasi-kramers sonder lisensies weef deur die skare met sluiknegosiegoed.

Dags is hartlik as ek ou kennisse raakloop. Daar word na welvaart verneem, komplimente beantwoord en as tyd dit toelaat, heugenisse 
herroep. "Ek s, Ou Lem, moet my nie in 'n traan druk nie!" pleit-beveel Bhai as hy wegstap.

"Jou Afrikaans is nog redelik goed!" merk iemand anders op.

"Verleer jy ooit om 'n fiets te ry?" vra ek.

"But ... Afrikaans!?" Die anderstalige gesellin se mondhoeke kry seer as sy haar neus optrek.

"Het alle Duitssprekendes destyds die Fhrer vereer, of alle eters van tortellini en fettucine, Mussolini?"

Deur die jare het die milieu op die Parade byna onveranderd gebly - net die akteurs het gewissel. Daar is tog verandering - die kom en gaan 
van 'n menigte oorvol minibus-taxi's wat so-te-s die busdienste vervang het. Wedywering dwing hulle tot onverskillige jaery. N 'n 
passasier afgeklim het of aan boord ingeskoenlepel is, word die wegtrekteken gegee: "Kap aan! Kap aan!" Binne 'n kort tyd het hulle 'n eie 
kliektaal ontwikkel.

Van my tydgenote en ander kennisse het reeds na die hoogste plato verhuis. Van 'n aantal oudkollegas het twee intussen skoolhoofde geword - 
een volgens meriete, die ander deur gatkruipery. Ongevraag en binne minute n ons herontmoeting het hulle oor bekomde weelde gesnoef en 
verder gebraak van prestige en huidige gemeenskapstande - prentensieuse, oorvoede karikatuurtjies!
---------------------------------------------------------------------

Net voor die ingang tot Genadendal - regs teen die heuwelhang aan die ver ent van 'n plaat ganna- en renosterbos, staan sipresse wag by 'n 
grafsteenboord. Die pad draai links, kronkel sowat drie en 'n half kilometers oor sinkplaat deur Baadjesbos en verby Stroomdrif - knipoog 
en jy het di plek gemis. Uiteindelik beland jy in Voorstekraal, skaars 'n gehuggie en sonder skool of kerk, waar ek 'n aansienlike deel 
van my nomadiese kinderlewe moes deurbring.

'n Baie eerbare bevolkinkie bewoon di plekkie, waar weiende donkies die lewenstempo demonstreer. Hier het ek kom inloer, want dit is 
immers die habitasie van ons matriarg, familieraadgeefster en eertydse kweperlatdeskundige sonder weerga.

Om ou vriendskapbande te verfris het ek ouer kennisse opgesoek. Wat my die eerste opgeval het, is die destydse geordende groentetuine se 
gruwelike verwaarlosing. Die jonger geslag het die stad of groter dorpe verkies.

Die veterane van die seisoene, krom wingerdstokke sittende op 'n houtstomp of 'n eie-gemaakte bankie, wens die slakkegang van elke dag 
verby. Die realiteit het vir die grote meerderheid al lank gelede versteen geraak.

Ou Jooswa Bonkies, half seniel en drie kwart bedonderd, was taamlik aggressief. Sy asem het nog swaar die skim van die vorige aand se 
goedkoop wyn geabba. Hoe kon 'n vermetele snuiter soos ek durf waag om hom te vertel dat John Vorster nie meer eerste minister is nie en 
dat die mense al op die maan geloop het?

Oom Boeta was nog bevoorreg om die grense van kindsheid tot dusver te ontduik. Hy het net breedvoerig gemor oor sy vretende jig, insomnia 
en die skaarsheid van maagde. "Vroeg ryp, vroeg rot!"

Die vrouens het nog steeds oor afstande vir mekaar ge- "koo-ee" en honger suigelinge het gulsig aan vol pramme gepomp en geslurp. Die 
kindertjies het nog gereeld handeklip, kappiekraan, pie-ie-p en stoun gespeel en die seuns het hul woorde gebry wanneer hulle mekaar in die 
rivier ge-kei en palmiet ge-kaa het. Eie speletjies, eie tongval, eie jargon!

Teenswoordig ontvang groter getalle kinders horskoolopvoeding vyf kilometer van Voorstekraal. In teenstelling met my horskooldae is almal 
deesdae voetbeklee en hulle yo-yo kosteloos per bus tussen die twee punte. Tersire studie of vakleerlingskap dra ook grotendeels by tot 
die jeug-eksodus.

Daar is soet en suur in elke sajonara.

Verbode bordjies van die ou staatsbestel wat die fisieke en geestelike landskappe in die verlede besoedel het, skitter nou in my 
geboorteland deur hul afwesigheid. Grootskaalse ontneming van menswaardigheid deur di bose sinnebeelde het gestrek van pynlike vernedering 
tot absurditeit in sy uiterste vorm.

Ek onthou identiese hysers in 'n goewermentsgebou in Kaapstad. "Blankes", het die een prontuit beveel, "Nie-Blankes en pakkette alleenlik" 
die ander.

Pas voor die eerste vrye verkiesing in 1994 het talle opvattings bestaan van wat 'n demokrasie moes inhou. 'n Groep het geglo dat dit 
onmiddellik 'n panasee vir alle ekonomiese probleme sou wees. Daarom vra haweloses en werkloses nog: "Waar is die veranderinge?"

'n Ander groep het vryheid met anargie verwar en dra nou grootskaals by tot die groeiende misdaadsyfer. Daar is ook nog die ou garde van 
verbitterde eksbevoorregtes wat die status quo van vroer nog nie finaal vaarwel kon toeroep nie.

Thabo wil glo dat hy dinge onder beheer het en kom ernstig daaroor voor, maar 'n gehoor van doemprofete in die stalles is gereed om hande 
te klap vir die negatiewe. Daar is juis die frustrasie weens die aantal onbevoegde regeringsmense en korrupte amptenare wat staatsgelde glo 
wederregtelik toe-eien.

My vliegtuig huiswaarts na Australi moet rens oor die Karoo wees. Die wolke begin oopmaak. Die lugwaardin probeer my afwesige staar na 
buite oorbrug: "Dink dis besig om te verander daarbuite," s sy. Matthew Lamour woon al vyftien jaar in Australi. Hy noem homself 
pedagoog, handelaar, tuinman en versiemaker. Deur die SvA se webwerf afrikaans.com het hy met Afrikaans Vandag kennis gemaak.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7326.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Julie 2000 /// Om vir moedertaal te stry of nie (AV 7:3) /// Terugblik 
op die grootste kunstefees (AV 7:3) /// Vlytige voorstander van veeltaligheid (AV 7:3) /// Forum vir openhartige debat (AV 7:3) /// Komrij 
blues (AV 7:3) /// Afrikaans as skakel na die buiteland (AV 7:3) /// Groot tjek vir stoepplesier (AV 7:3) /// Nuwe hoop vir ongeletterde 
plaaswerkers (AV 7:3) /// Behou diversiteit in globaliseringsproses (AV 7:3) /// Vennootskap van inheemse tale is prioriteit (AV 7:3) /// 
Carl Niehaus het in Nederland gebou (AV 7:3) /// Vele koppe maak puik planne (AV 7:3) /// ET blues (AV 7:3) /// Nuwe speler op die taalveld 
(AV 7:3) /// Talle faktore gryp in universiteitstaal in (AV 7:3) /// Tussen Scylla en Charybdis deurvaar (AV 7:3) /// Ver gemeenskappe se 
leiers leer sakevernuf (AV 7:3) /// Hansie blues (AV 7:3) /// Twee letterkundiges in gesprek (AV 7:3) /// 'n Bloeityd in die reklamebedryf 
(AV 7:3) /// Woordeboeke gee leerproses woema (AV 7:3) /// Nuwe toevoeging tot woordeboeklys (AV 7:3) /// Twee Koreane verstaan toe 
Afrikaans (AV 7:3) /// Studente wil in Afrikaans feesvier (AV 7:3) /// Afrikaans word in toneelwreld nuut gespel (AV 7:3) /// Jou 
Afrikaans is redelik goed! (AV 7:3) /// Privaatgesprek (AV 7:3) ///

